GWK KAROOFEES
12-14 MAART 2020
Geagte Meneer/ Mevrou
Hoërskool De Aar is geleë in die hartjie van die Groot-Karoo in die Noord-Kaap. Die skool is ‘n waardegedrewe skool wat op alle gebiede puik presteer en is jaarliks onder die top 10 beste skole in die Noord-Kaap! Om deel van dié topspan te bly, is Hoërskool De Aar verplig om hul eie fondse te in en daarom speel die GWK Karoofees hier ‘n groot rol.
Danksy ruimhartige borgskappe van die gemeenskap vir die GWK Karoofees van 2019, kon ons met vanjaar se Karoofees weer ‘n baie goeie wins maak. Ons is dus baie dankbaar vir die bydraes; gevolglik voel ons dat ons die vrymoedigheid kan neem om u te nader vir borgskappe. ’n Belegging in HSDA is uiteindelik ’n belegging in die voortbestaan van De Aar, en dus ook weer in u eie besigheid.
Hoërskool De Aar is ‘n multikulturele skool wat die bevolkingsamestelling van De Aar weerspieël. Vir die boekjaar 1 Januarie 2018 tot 31 Desember 2018 kry die skool ‘n skamele R68 272.00 in totaal van die Noord-Kaap Onderwysdepartement uit ‘n totale begroting vir die skool van R4 797 912. Vir die boekjaar 1 Januarie 2017 tot 31 Desember 2017 is R517 794 as oninbaar afgeskryf.Die skool borg ook meestal leerders uit voorheen benadeelde gemeenskappe met R376 232 vir die tydperk 1 Januarie 2017 tot 31 Desember 2017.
Hoërskool De Aar is ‘n integrale deel van die Emthanjeni Munisipaliteit asook die Pixley ka Seme Distriksmunisipaliteit. Ons wil, soos met die afgelope twaalf Karoofeeste, poog om ’n ekonomiese inspuiting vir die hele Emthanjeni Munisipaliteit teweeg te bring, en daarom is daar besluit om die GWK Karoofees weer volgende jaar vanaf 12-14 Maart 2020 te hou.
Hoërskool De Aar Ouertrust inisieer weer die Fees vir die hele gemeenskap. Die fondse word aangewend vir die ontwikkeling van akademiese-, sport- en kultuurfasiliteite vir al die leerders van dié multikulturele skool. Die ouerkorps, en die breë gemeenskap, sal weer by die aanbieding van die GWK-Karoofees betrek word. Gedurende die beplanning en uitvoering van die Karoofees, sal daar noodwendig noodsaaklike werksgeleenthede geskep word.
Die feesorganiseerders was reeds in verbinding met die onderskeie burgemeesters van De Aar en beide erken ook die belangrikheid van die fees as ’n ekonomiese inspuiting vir die hele gemeenskap. Die burgemeesters het ook onderneem om die Feeskomitee behulpsaam te wees waar hulle kan, en dat die fees ook hulle goedkeuring wegdra.
Ons het reeds, met die wins uit vorige feeste, die aanlê van ‘n hokkie- en rugbyveld op die skoolterrein afgehandel, ‘n nuwe bussie aangekoop, 800m duiwelsvurkomheining geborg, ‘n goeie tweedehandse bussie aangekoop,‘n baie groot bydrae tot ‘n nuwe bus gemaak, dataprojektors in elke klas geïnstalleer, die herstel van ses netbal- en tennisbane voltooi, nuwe gordyne vir die Boet Troskie Saal aangekoop, R280 000 bygedra vir die herstelwerk van die skoolgebou buite, kameras vir elke klas geïnstalleer, WiFi deur die hele skool en aankoop van 10 rekenaars vir die uitbreiding van die leesprogram, Readers-are-leaders vir elke leerder van graad 8-12 vir 2 periodes per week.
Die suksesvolle aanbieding van so ‘n fees het groot finansiële implikasies. Aangesien u nou reeds besig is met die begroting van 2020, word u vriendelik versoek om ‘n feesborgskap te oorweeg. Ons het elke sent broodnodig om ’n fees van hoogstaande gehalte aan te bied.
Hoërskool De Aar, asook die gemeenskap van De Aar, maak staat op u ondersteuning en u belegging in die jeug van ons dorp en Suid-Afrika.
Karoofeesgroete