2023 KFC-tennisfees









BKFC-TENNISFEES: ʼn REUSE SUKSES

De Aar en sy gemeenskap was bevoorreg hierdie jaar om ʼn nuwe konsep in tennis te ervaar in die formaat van ʼn tennisfees.

Daar is aan baie fasette van tennis oor ʼn periode van drie dae gedurende die Kÿto Karoofees deelgeneem.

Die oogmerk was om jong spelers blootstelling te gee, te ontwikkel, die gemeenskap en omgewing te betrek en tennis in die geheel te bevorder terwyl daar ʼn ontspanne en feestelike atmosfeer geheers het.

Op Donderdag, 2 Maart het die ervare spelers aan ʼn enkelstoernooi deelgeneem.

Daar was heeltyd ʼn afrigter of tellinghouer byderhand om die heel kleintjies te help indien hul sou sukkel met die reëls of om telling te hou.

Die Vrydag was ʼn afrigtingsdag wat deur Lotalna Menne, Johan Barkhuizen, Driaan Smit en Hendry Bester behartig is.

Daar is op balvaardigheid, voetwerk, voorhand, rughand, “volleys” en diene gefokus.

Na die afrigting het die onervare spelers of die wat nog nie ʼn geleentheid gehad het om aan ʼn toernooi deel te neem nie ook ʼn kans gekry om teen mekaar te speel.

Deurgaans was daar musiek gemaak en kon die spelers die fees besoek of op die springkasteel speel wat langs die bane opgeslaan was.

Op die laaste dag (Saterdag) was daar ʼn dubbelstoernooi waaraan die hele familie asook vriende kon deelneem.

Almal het dit baie geniet en bande kon versterk word.

Die tennisfees is met pret en speletjies asook ʼn gelukkige trekking afgesluit.

Daar is op elke dag van die tennisfees pryse aan al die spelers oorhandig.

Dit is moontlik gemaak deur die hoofborg KFC De Aar asook Mnr. Danny de Carvalho van MTN.

Baie dankie aan Johan Barkhuizen (DJ Brakkies) vir die musiek gedurende die tennisfees asook aan Me. Lotalna Menne vir die skenking van die tennisballe en die aparte afrigting.

Die toernooi organiseerders spreek hul dankbaarheid teenoor almal uit vir die ondersteuning en kan nie wag vir die volgende tennisfees nie!